OLAF BISSCHOFF PRESS COVERAGE

"OLAF BISSCHOFF" PRESS COVERAGE

BUSINESS DAY ART : JUNE 2008

Click below to read...

Read more

 

BEELD - 2 June, 2008

Terugtasting na die onbekende
Johan Myburg


image006.gif

Olaf Bisschoff, June 2008


Voor die 19de eeu het "terra incognita" op landkaarte onbekende (of eerder onverkende) streke aangedui. As wisselvorm vir terra incognita is "hic dracones sunt" (hier is monsters) ook gebruik. Daar was indertyd geglo dat terrae wat incognita was, bewoon is deur monsters.

Ná die 19de eeu het die aardbol 'n verkende en bekende plek geword. En het monsters gewyk.

Olaf Bisschoff se versameling oliewerke bestaan grootliks uit landskappe, maar agter die terra is dit die incognita wat uitstaan - die "ongekaarte streke van die gees" waarna D.J. Opperman verwys het. Die streke waar daar nog steeds monsters skuil . . .

Op die oog af bied Bisschoff die kyker 'n versameling somber landskappe, selfs elegies. 'n Donker landmerk soos 'n herkenbare berg of boom en bokant 'n helder lug, soms met onstuimige wit wolke. Die landskappe kom herkenbaar voor - asof 'n mens in die titel van die werk wil soek na 'n aanduiding waar dié spesifieke toneel is. Asof jy dit al iewers gesien het.


Maar Bisschoff bied geen leidrade nie. Die werke het titels soos Chaos, Land(mine), Outer Suburbia, Lost Youth. Dis plekke wat kan bestaan, maar ewentewel ook versin kan wees. Dit is plekke wat bestaan in die atlas van nostalgie.

Lost Youth is 'n groot werk, weer met die tweedeling van land en lug, oorheers deur 'n reuse-skerm van 'n verlate inryteater. Dié beeld tower reeds elemente van verlies op. Maar dan projekteer Bisschoff presies op die doek van die inry, met die hulp van 'n klein projektor (wat eweneens nostalgie wakker maak), 'n animasieprent van die wolf en die drie varkies. Jy sien hoe die wolf die huisies van die eerste twee varkies wegblaas. En hoe die varkies skuiling vind in die steenhuisie terwyl die wolf blaas en blaas . . .

Bisschoff "verken" met dié uitstalling die verlies aan die onbekende, die verlies aan onsekerheid.

In 'n wêreld waarin alles so berekend en meetbaar geword het (vergelyk sy landskappe met ouderwetse liniale en maatstokke daarop gemonteer), lees 'n mens 'n hunkering na die incognita. Toe alles nog nie so uitgepluis was nie.

"I knew my way from here . . ." haal Bisschoff aan uit 'n liedjie van Sixteen Horsepower op die klankbaan van 'n projeksie in This Is not the Place. Bo-oor die werk is daar die projeksie van voëls in vlug, van 'n klein kudde diere wat deur die landskap beweeg, van 'n man met 'n hond.

Terra incognita is 'n uitstalling wat begoëlend omgaan met konsepte soos chaos en orde, met besit en verlies. En met streke waar monsters wel nog skuil.

Tot 14 Julie.

Die Rooke-galery is by Quinnstraat 37, Newtown, Johannesburg. Navrae: 072 658 0762.